Organisasieverwante stres onder maatskaplike werkers is ‘n internasionale verskynsel (Shweta & Siebert, 2007). Maatskaplike dienslewering gaan gewoonlik gepaard met organisasieverwante eise wat ‘n negatiewe uitwerking op die maatskaplike werker sowel as die kwaliteit van dienslewering kan hê indien dit nie vroegtydig geïdentifiseer en voorkom word nie (Werner, 2007:320). Ten spyte van die feit dat maatskaplike werk as een van die mees stresvolle beroepe beskryf word, het organisasieverwante stres binne die maatskaplike diensveld eers in die laaste paar jaar aandag begin geniet (Dillenburger, 2004:213). In die literatuur word daar na drie vlakke van intervensie verwys, naamlik primêre, sekondêre en tersiêre intervensie (Departement van Arbeid, 2003:14; Cooper, Dewe & O’Driscoll, 2001:189). Sekondêre en tersiêre intervensies word as die mees algemene strategieë vir die bestuur van stres in ‘n organisasie geïdentifiseer (Cooper et al., 2001:190; Grobler, Wärnich, Carrell, Elbert & Hatfield, 2002:441). Kritiek op die genoemde vlakke van intervensie sluit in dat die verantwoordelikheid op die maatskaplike werker alleen geplaas word om sy/haar stres te hanteer. Primêre intervensie behels dat die oorsprong van die probleem voorkom word, in plaas daarvan dat die simptome behandel word nadat dit reeds voorgekom het (Satcher, 1999). Hierdie navorsingstudie plaas die fokus op die primêre-intervensiestrategie, nadat daar ‘n leemte in die literatuur in hierdie verband geïdentifseer was. Die doel van die navorsing was om die aard van voorkoming van organisasieverwante stres onder maatskaplike werkers, deur middel van primêre-intervensiestrategieë deur maatskaplikewerkbestuurders, te verken en te beskryf ten einde ‘n voorkomingsriglyn te ontwikkel.
Ten einde die navorsingsdoel te kon bereik is die kwalitatiewe navorsingsbenadering in hierdie studie gebruik, aangesien dit die mees geskikte wyse sou wees om die verkennende en beskrywende aard van die studie te ondersteun (Creswell & Plano Clark, 2007:12). Die populasies vir hierdie kwalitatiewe studie was:
• Alle maatskaplikewerkbestuurders wat by regerings- of nie-regeringsorganisasies werksaam is.
• Alle maatskaplike werkers wat by regerings- of nie-regeringsorganisasies werksaam is.
Binne die raamwerk van die kwalitatiewe navorsingsbenadering is daar van ‘n nie-waarskynlikheidsteekproefmetode en die doelgerigte en sneeubal steekproeftegnieke gebruik gemaak. Die navorser wou gebruik maak van haar eie oordeel oor wie die navorsingsvraag die beste sou kon beantwoord. Die steekproefgrootte was bepaal deur data-versadiging wat waargeneem was na nege onderhoude met maatskaplike werkers en nege onderhoude met maatskaplikewerkbestuurders.
Die navorser het by beide populasies semi-gestruktureerde onderhoude as die metode van data-insameling benut. Tesch soos aangehaal in Creswell (2009:186), se agt stappe vir kwalitatiewe data-analise het die navorser ondersteun om die data op ‘n sistematiese wyse tot temas en sub-temas te kodeer. Die data is na afloop van die identifisering van die temas en sub-temas beskryf en gekontroleer met bestaande literatuur. Guba het (in Krefting, 1991:214-222) ‘n model saamgestel om met die verifikasie van kwalitatiewe data te help. Hierdie model is op die volgende vier aspekte gegrond en in hierdie studie benut: geldigheid van die waarheid, toepasbaarheid, bestendigheid en neutraliteit.
Die volgende etiese aspekte is tydens die beplanning en uitvoering van hierdie studie in ag geneem: Vermyding van skade; vrywillige deelname; ingeligte toestemming en anonimiteit en konfidensialiteit.
Die benutting van bovermelde metodologie het die navorser in staat gestel om voorkomingsriglyne te ontwerp en om gevolgtrekkings en aanbevelings te maak.
The goal of this research was to explore and describe the nature of prevention of organisation-related stress among social workers through primary intervention strategies by social work managers to develop a prevention guideline. The qualitative research approach, together with the case study, contextual, explorative and descriptive research designs were used in the study. The two populations included a) all social work managers and b) all social workers that work for government or non-government organisations. Samples from the populations were obtained through the non-probability sampling method and the purposive and snowball sampling techniques. Data was collected through semi-structured interviews. Tesch’s framework for qualitative research analysis supported the researcher to identify themes and sub-themes, while Guba’s model was used to assist with the verification of qualitative data. The empirical findings provided the foundation for the development of a prevention guideline.