dc.description.abstract |
Omdat apartheid ʼn beskawingsbreuk veroorsaak het, het die manier hoe lesers die Bybel binne die Afrikaanse reformatoriese tradisie hanteer, problematies geword. Ons kan nie meer vandag die Bybel op dieselfde manier as wat aanleiding tot die teologiese regverdiging van apartheid eens op ‘n tyd gegee het, lees nie. Ons moet die Bybel anders lees. Dit is noodsaaklik dat Bybellesers bewus word van die merke wat hulle hantering van die Bybel op ander mense laat. Bybellees het ʼn effek op mense. ʼn Etiek van Bybellees help lesers om nie net die Bybelteks in ag te neem nie, maar ook diegene wat deur Bybelinterpretasie geraak word. Die vraag is nie net hoe betekenis gekonstrueer word nie, maar ook wie se belange gedien word, watter waardes aangemoedig word en watter sosio-politieke praktyke gelegitimeer word. Dit beteken dat die subjektiewe element aktief in die lees van die Bybel verdiskonteer word deur ʼn mens se verantwoordelikhede ten opsigte van die teks, die leser en diegene wat die merke van ʼn mens se lees gaan dra, te balanseer. Die etiese moment word belangrik, want hierin ontmoet die Bybelleser die ander mens in sy of haar blootgesteldheid. Maar dit vra ook ʼn sensitiewe hantering van die Bybelteks ten einde geregtigheid teenoor die teks in sy historiese konteks te laat geskied. Op so ʼn wyse word die Bybel minder van ʼn wapen wat teen mense (soos vroue en gays) gebruik kan word en meer van ʼn instrument om lesers te bemagtig. |
en |